Avondale Primêr se skoolhoof, Michael Scholtz, is Sondagoggend ná ’n kort siekte in die hospitaal oorlede.
Scholtz, wat byna 40 jaar by die skool betrokke was, het vroeër vanjaar sy 60ste verjaardag gevier.
“Dit was sy droom om volgende week die lint van ons nuwe skool te knip,” sê Karin Johnson, ’n onderwyser van dié skool.
“Ons was almal opgewonde oor die vooruitsigte dat ons nog ons nuwe skool sou betrek en die hoof het byna elke dag gesê dat hy volgende jaar gerus sal kan aftree,” het Johnson verder gesê.
Marshall Julies, ’n onderwyser by die skool, het die skoolgemeenskap Sondagoggend op Facebook in kennis gestel van Scholtz se heengaan.
“Aan al ons ouers, dit is met hartseer dat ons u in kennis stel dat die skoolhoof, meneer Scholtz, vanoggend gesterf het. Meer inligting volg later.”
Huldeblyke het van oudleerders en – kollegas ingestroom.
“Hy was ’n goeie man. Altyd behulpsaam en het omgegee vir almal,” het een huldeblyk geheet.
“Dit is met skok en ongeloof dat ek verneem van die heengaan van meneer Scholtz. Mag sy siel in vrede rus. Hy was voorwaar ’n formidabele leier in die opvoeding en was trots – nie net op sy skool nie, maar ook op die Atlantis-gemeenskap, wat hy bedien het. Sy leierskap kon gesien word in die trots, dinamika en entoesiasme van sy personeel en die passie waarmee leerders opgevoed word,” het oudkollega Quinton Pick in sy boodskap gesê.
Die leerders, onderwysers en ouers het Maandagoggend ’n gedenkdiens by die skool gehou.
. Teen druktyd was begrafnisreëlings nog nie bevestig nie.