Die prys wat skole moet betaal om die stad Kaapstad se sportterrein te gebruik, is verregaande.
Só meen Pieter Februarie, skoolhoof van Mamre Primêre skool.
Dit kom nadat die stad Kaapstad sy tariewe aangepas het en die skool nou tot R366,30 moet opdok vir ’n uur lange krieketwedstryd tussen sy leerders.
“Dit is belaglik dat skole so baie moet opdok,” braak Februarie gal. Volgens Ruben Abels, onderhoof van Mamre Primêre skool, is ’n skole-krieketliga op die been gebring om leerders ná skoolure uit die strate te hou.
Mamre Primêr is ook ’n geen-fooi-skool, wat beteken dat ouers ’n minimale bedrag vir skoolgeld betaal. Skole kan ook nie registrasie of administratiewe koste vra nie.
“Hoe kan die stad en ander regeringsfere verwag skole moet betrokke raak by programme om kinders van die strate te hou, maar dan moet skole ten duurste betaal vir hul projekte. Daar is geen hekgelde by krieketwedstryd nie, so die skool moet self opdok,” voeg Abels by.
Die krieketliga is nou in die weegskaal omdat die skool eenvoudig nie die kostes per wedstryd kan betaal nie. Benewens die kostes per krieketwedstryd moet skole ook voortaan R800 opdok vir hul kleure-atletiekbyeenkoms volgende jaar. Die koste kom nadat die skool in 2018 slegs R100 betaal het.
Die stad Kaapstad is genader om kommentaar en het per e-pos bevestig dat hy voor die spertyd sal reageer. Teen druktyd is daar nog geen reaksie ontvang nie.