Weskus Nuus en SuperSport Let’s Play se wenner vir September en die finale wenner vir 2016 is Caleb McHelm (9).
Die gr. 4-leerder van Saxonsea Primêr is ’n ywerige karate-kampioen.
Sy ma het hom in 2014 ingeskryf by Karate Kyousei, ’n karate-klub in Atlantis, wat smiddae by sy skool oefen.
“Ek wou graag hê my seun moet ’n sport beoefen sodat hy dissipline en selfverdediging kan aanleer,” verduidelik Angelique McHelm.
Caleb spog nou met ’n oranje belt en het vanjaar ’n goue medalje verwerf in sy kategorie by die nasionale Karate-kampioenskap in Mosselbaai, wat begin Oktober gehou is.
Caleb oefen twee dae per week vir sowat twee ure met sy sensei, Korie Flink. Hy kyk ook graag flieks wanneer hy nie oefen of skoolwerk doen nie.
Sy doel is om ’n swartbelt te verower in karate en wil graag eendag ’n sensei wees, sodat hy ook ander kinders kan leer karate beoefen. Nominasies vir Let’s Play-kandidate is vir eers gesluit.
Weskus Nuus bedank graag alle klubs, skole en ouers wat hul kinders genomineer het. Die kompetisie is volgende jaar weer oop. Die amptelike toekenningsaand vind hierdie Donderdag in Mamre plaas.