Ikamva Youth berei jongmense vir die toekoms voor

“Jy kan net faal as jy opgee en as jy opgee klop armoede en werkloosheid aan jou deur. Jy kan net wen as jy volhard!”.


“Jy kan net faal as jy opgee en as jy opgee klop armoede en werkloosheid aan jou deur. Jy kan net wen as jy volhard!”

Met dié woorde het Suzette Little, burgemeesterskomiteelid vir die noordelike gebied, die jongmense wat deel van Ikamva Youth uitmaak, bemoedig.

Saterdag 3 Februarie is die leerders wat aan naskoolse klasse deelneem by ’n seremonie vereer.

Green Cape tesame met Ikamva Youth het in 2016 naskoolsessies vir graad 10-en 11-leerders van verskillende skole begin. Dié sessies word by Hoër Tegniese Skool Proteus gehou.

Verlede jaar is graad 12-sessies ook bygevoeg en teen die einde van die jaar kon die leerders en organiseerders reeds die vrugte van hul harde werk pluk met 94% van die leerders in dié program wat die matriekeksamen geslaag het.

Little, die gasspreker by die seremonie, het gesê: “Julle kan net sukses behaal as julle volhard met waarmee julle besig is en die wye wêreld daarbuite sal jou met ope arms verwelkom as jy jou kanse gebruik.”

Volgens Ursula Wellman van Green Cape gaan die Atlantis Spesiale Ekonomiese Sone ook werkgeleenthede aan jongmense bied om hulle vir die arbeidsmark voor te berei. Green Cape en Ikamva Youth het die private opvoedingsprojek by die skool begin. Sy sê voorts die program groei van krag tot krag.

Leerders kan reeds registreer om klasse by te woon. Kontak vir Andrea of Yanga by 062 094 0739.

You need to be Logged In to leave a comment.