Hendricks wys waar inbrekers die lemmetjiesdraad beskadig het om toegang tot die perseel te kry. Foto’s: Murphy Roberts


Hulle kan eenvoudig nie meer byhou met onderhoudskostes van die kleuterskool waar nou twee tot drie keer per week ingebreek word nie.

Elize Hendricks, die hoof van die John Strebel Educare Centre in Beacon Hill, Atlantis, braak behoorlik gal oor die kwaaddoeners wat eenvoudig geen genade het met die skool nie – dit ten spyte daarvan dat hulle die beste veiligheidskameras laat installeer het, “maar nie eens dít skrik die skurke af nie”, kla sy.

“Meneer, weet u dat hulle dit [die kameras] ook afgesteel het,” sê sy moedeloos en wys na die oorblywende kameras.

Sy voeg by die skade beloop reeds honderde duisende rande.

“Die rede hoekom ons die koerant nader, is om inwoners wat die gesteelde goed koop, bewus te maak dat hulle deel van die probleem is.”

Volgens Hendricks is die skool se waterverwarmer, kameras en gastenke van die mees onlangse skade wat die skool gely het. Sy sê ook die deurloop langs die skool lei tot baie probleme.

“Baie mense word tans soggens vroeg en saans laat hier beroof en ons het gevra dat die Stad die bome en lang gras moet verwyder.

“Die inbrekers kruip hier weg en wag hul beurt af,” het sy verduidelik.

Volgens kapt. Lisa Munro, ’n polisiewoordvoerder, word klagtes van huisbraak ondersoek.

Wessie van der Westhuizen, die subraad 1-bestuurder, sê die grond is in private besit en die Stad kan nie inmeng nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025
    WeskusNuus E-Edition – 11 November 2025