“Is dit nodig vir sulke behuising in Atlantis?”
Subraadbestuurder Wessie van der Westhuizen het 24 Mei by die subraadvergadering terugvoering gegee oor ’n mosie vir beter behuising wat in Februarie ingedien is.
Volgens van der Westhuizen is dít die terugvoering wat hy van ’n amptenaar van die Stad Kaapstad gekry het, ná hy die mosie verder geneem het.
Die Atlantis Development and Housing Project-komitee, wat uit jong professionele mense bestaan, het September verlede jaar besluit om iets daadwerklik aan die behuisingsprobleem in Atlantis te doen.
Die voorgestelde behuisingsprojek vir professionele mense, wat meer as R15 000 per maand verdien, se mosie is 22 Februarie deur proporsionele raadslid van die ANC, Fiona Abrahams ingedien.
Die mosie vra dat die grond in Robinvale, Mesabi-, Moorfoot-, Lukasrand-, en Mendipstraat, wat aan die provinsiale regering behoort, aan die groep vir ontwikkeling gegee moet word.
“Die raad het by die mosie eenparig besluit om dit te ondersteun veral in die lig dat jongmense uit die dorp moet trek om behuising in ander gebiede te bekom,” sê Abrahams.
By verlede week se vergadering het die voorsitter van die raad, Cynthia Clayton, behoorlik gal gebraak oor die amptenaar se uitlating. Abrahams sê die raad moet onmiddellik ’n ondersoek na die betrokke amptenaar van stapel stuur.
“Ons het rekenmeesters, prokureurs, dokters en baie professionele mense hiér so waarom mag hulle nie hiér huise bou of koop nie?” wou Abrahams van die vergadering weet.
Die vergadering het eenparig besluit dat ’n ondersoek na die amptenaar se uitlatings gedoen moet word.
“Ek gaan beslis al my aandag aan die projek gee, want behalwe die huise is dit ook ’n gulde geleentheid vir werkskepping en klein sakeondernemings om ’n merk te maak,” het Abrahams verder gesê.
Volgens Edward Louw van die Development and Housing Project-komitee is dit skokkend dat amptenare dit van die dorp moet dink en sê dit is duidelik die betrokke amptenaar weet nie wat in dorp aangaan nie. “Professionele mense in Atlantis het ook needs soos behuising. ’n Doktersvriend van my woon tans in ’n wendyhuis. Ons raak ook slagoffers van uitbuiting, terwyl die proses sloer,” sê ’n omgekrapte Louw.
Die organisasie ontmoet Jeugdag by die Robinvale-sportterrein en beoog ook om ’n memorandum aan die raadslede te oorhandig.
Die Atlantis Development and Housing Project-komitee beoog ook om self ’n ontwikkelaar te kry wat elkeen se droomhuis sal bou en daar word gekyk na sekerheidskomplekse sodat die inwoners veilig kan voel.