Drie kinders van die Larks Place-woonstelblok by die Dura-woonstelle het amper hul lewens verloor in ’n brand.
Volgens Karin Smith, ’n loseerder in die woonstel, het hulle Sondag 5 Februarie ’n middagslapie gevat toe sy wakker word van ’n gekap aan die venster.
“Dit was my suster. Sy het geskree dat die huis brand,” vertel Smith.
Sy het opgespring en die deur oop-forseer sodat die kinders kan uit.
Haar twee kinders was saam met haar asook haar verhuurder, Shariefah Bester, se driejarige.
Bester se kêrel het glo in die kamer langsaan geslaap met haar sewejarige kind.
Volgens Smith was Bester sedert die Vrydag weg en het sy die twee kinders alleen aangetref toe sy Vrydagmiddag van die werk kom.
Volgens inwoners van die woonstelblok, wat nie genoem wil word nie, los Bester gereeld haar minderjarige kinders alleen by die huis en is sy vermoedelik verslaaf aan tik.
“Maar sy kom altyd weer die volgende dag huis toe, ons weet nie hoekom sy hierdie keer so lank weg is nie,” het een inwoner gesê.
Volgens Smith het die brand in Bester se kamer, waar haar kêrel geslaap het, ontstaan en was hy en die sewejarige kind nêrens te vind ten tyde van die brand nie.
Volgens wykraadslid, Barbara Rass, wat die toneel besoek het, het gemeenskaplede ingespring om die brand te blus. “Vier inwoners het geringe beserings opgedoen,” voeg sy by. Rass het ook die maatskaplike dienste gevra om die driejarige in ’n plek van veiligheid te plaas.
Shariefah het Maandag 6 Februarie salig onbewus teruggekeer huis toe, “asof niks verkeerd was nie”.
Altwee kinders is terug in hul ma se sorg geplaas. Volgens kapt. Cyril Dicks, polisie-woordvoerder, is die brand deur ’n kortsluiting veroorsaak en vermoed die polisie geen vuil spel nie.