Inwoners ‘is moeg vir die agterspeen’

Inwoners van Mamre het Saterdag 20 Julie die 7 km na Atlantis gestap om ’n memorandum met hul klagtes aan die wyksraadslid te oorhandig.


Inwoners van Mamre het Saterdag 20 Julie die 7 km na Atlantis gestap om ’n memorandum met hul klagtes aan die wyksraadslid te oorhandig.

Cynthia Clayton, wyksraadslid en subraadvoorsitter, het die memorandum van die Mamre-inwonersvereniging, onder leiding van Stanley Kelly, ontvang. Die vereniging eis die stadsraad moet “ophou parke bou en begin fokus op behuising en ekonomiese ontwikkeling vir die dorp”.

Volgens die memorandum is ’n veiligheidsheining vir die plaaslike biblioteek belowe om vandale uit te hou, maar dit is nooit opgerig nie.

Ander kwellinge, soos deur die inwoners in die memorandum aangevoer, sluit in:. Die dorp het genoeg grond en geld, maar suig steeds aan die agterspeen wanneer dit by ontwikkeling kom.. Die stadsraad moet in die vervolg net met die vereniging kommunikeer.. Daar is 77 gedienste erwe beskikbaar waarop mense huise kan bou, maar niks gebeur nie en inwoners eis dat dié grond onmiddellik beskikbaar gestel word.. Bendegeweld vier hoogty in dié eens rustige historiese dorp en inwoners eis dat die Wes-Kaapse minister van gemeenskaps-veiligheid, Albert Fritz, hulle kom toespreek oor die polisiekantoor wat reeds jare toegesluit staan.. Inwoners soek ook toegang tot die dorp se bates en geld, sodat dit “deur die gemeenskap bestuur kan word”.

Volgens Kelly moet ’n lys van al Mamre se bates, geld, erwe en geboue ook binne 14 dae aan die vereniging oorhandig word.

Clayton het bevestig dat sy die memorandum ontvang het en dit aan die spesiale eenheid wat met memorandums werk, gestuur het.

Sy sê voorts daar is baie uitdagings in Mamre, maar vir eers sal sy vir terugvoering moet wag.

You need to be Logged In to leave a comment.