“Ons is naby breekpunt!”

Só het inwoners Woensdagaand 20 Junie by ’n behuisingsvergadering die Wes-Kaapse minister van behuising, Bonginkosi Madikizela, ingelig.

Dié vergadering volg nadat 250 inwoners, meeste agterplaasbewoners, onlangs gedreig het om in die Robinvale-gebied onwettig te plak.

’n Ontstelde inwoner, Charmaine Roberts, het vir Madikizela gemaan dat leë beloftes nie langer deur die inwoners geduld sal word nie.

Volgens Roberts word arm inwoners uitgebuit en sal daar ernstig gehoor gegee moet word aan dié groep se behuisingspleidooie.

“Amptenare van die Stad Kaapstad het geen manier van taktvolle gesprekke nie en inwoners word eenvoudig beledig,” het inwoners by die vergadering gesê. Madikizela het inwoners beloof dat hy met die leierskap in die Stad sal vergader en voorbeelde sal gemaak word van amptenare wat inwoners beledig.

Volgens wyksraadslid Barbara Rass het inwoners ’n petisie aan haar oorhandig waarin hulle vra dat daar dringend na hul behuisingsnood gekyk moet word. Sy sê voorts sy verstaan die nood en is trots dat inwoners nie wet in eie hande geneem het deur te plak of onwettig grond te beset nie.

Madikizela het inwoners gevra om die beleid vir behuising van die nasionale regering te respekteer wat bepaal dat iemand op ’n waglys moet wees. Hy sê voorts dat die enigste mense wat voorkeurbehandeling kry, gestremde inwoners is.

Inwoners het rooi gesien oor die toekenning van huise in Kanonkop en sê daar is mense wat meer as 20 jaar op die waglys is, maar nog nie blyplek ontvang het nie terwyl mense wat glo “onlangs” aansoek gedoen het, wel huise kry.

Inwoners het gevra dat die toeken­ningsproses van die huise ondersoek moet word. Madikizela sê inwoners se hulpkrete kan eenvoudig nie langer geïgnoreer word nie en het belowe om weer spoedig terugvoering te gee. Hy sê die eerste stap is inwoners moet hulle volledige besonderhede op die petisielys plaas voordat die departement daarna kan kyk.

. Opposisielede in subraad 1 het by ’n raadsvergadering, Donderdag 21 Junie, beswaar gemaak teen ’n mosie deur voorsitter Cynthia Clayton dat grond naby die Silwerstroomstrand-oord aan jong professionele mense, wat meer as R15 000 per maand verdien, beskikbaar gestel moet word. Raadslid Fiona Abrahams sê egter ’n mosie is reeds in Februarie vir die doel ingedien en het gevra dat die raad eerder aandag daaraan moet gee.

You need to be Logged In to leave a comment.