Inwoners kwaad oor ‘leë beloftes’

“Neem ons ernstig op of julle sal die woede van die gemeenskap sien!”.


“Neem ons ernstig op of julle sal die woede van die gemeenskap sien!”

Só het leiers en ontstoke inwoners van Witsand Cynthia Clayton, voorsitter van subraad 1, Dinsdag 14 Augustus gemaan.

Meer as ’n duisend woedende inwoners het vroeg Dinsdagoggend bande op die ou Mamre/Darling-pad gebrand en motoriste kon nie van die N7 in die dorp kom of uit die dorp gaan nie.

Die woedende inwoners meen hulle is moeg vir “leë beloftes” oor behuising en sê die tyd om met raadslede oor hul kwellinge te praat, is nou verby.

Volgens Thobile Maseti, voorsitter van SA National Civics Organisation (Sanco), neem die raadslede nie die gemeenskap ernstig op nie. Hy het ’n memorandum aan Clayton oorhandig.

Hy sê voorts Mkhulu-elektries, wat ’n kontrak by die Stad Kaapstad het om elektriese kabels te lê, het ingestem om die staalstruktuur in Witsand in ’n gemeenskapsaal te omskep as deel van sy sosiale verpligting. Mkhulu-elektries moet egter eers toestemming vir dié saal kry.

Die inwoners wou by Clayton weet waarom dit maande neem om die toestemming vir die saal te kry.

Die groep het Clayton gewaarsku sy het slegs drie dae om toestemming te kry anders is “die hel los”.

Die betogers sê die saal kan dien as ’n tydelike kliniek en ’n punt waar inwoners hul maatskaplike toelaes kan ontvang.

Maseti sê die nood vir ’n kliniek, biblioteek, straatligte en ’n skool in Witsand is baie groot. Hy meen dit is tyd dat raadslede by hul verkiesingsbeloftes hou.

Clayton het die groep verseker dat sy onmiddellik die bal aan die rol gaan sit en het beloof om so gou as moontlik terugvoering aan die ontstoke inwoners te gee.

Clayton het in Junie ’n mosie by die subraad ingedien om toestemming te verkry om die saal te bou.

Volgens raadslid Barbara Rass ondersteun sy die ontwikkeling in haar wyk.

You need to be Logged In to leave a comment.