Selfs nadat inwoners by ’n polisie-indaba by die nasionale polisieminister se adviseur, Lennit Max, gekla het oor polisiebrutaliteit, vier dit steeds hoogty in Atlantis.
Die gemeenskapsorganisasie, Concerned Citizens of Atlantis, meen inwoners van Atlantis vrees die polisie meer as wat hulle die bendes vrees.
Dít volg nadat daar weereens ’n vlaag aanrandings, na bewering deur polisiebeamptes, oor die feestyd in die gemeenskap was.
’n Groep van sowat 20 inwoners het nou regshulp ingeroep en is vasbeslote om antwoorde te kry – al moet hulle die polisieminister hof toe sleep.
Jonathan Bridgens van Concerned Citizens sê die organisasie gaan nie rus totdat daar teen die “skurke in blou” opgetree word nie.
’n Vergadering is 18 Januarie met senior polisieamptenare, die klaers en ’n verteenwoordiger van Alan Winde, Wes-Kaapse minister van veiligheid gehou. Die onafhanklike polisieondersoek-direktoraat (Opod), wat bevestig het dat hy die vergadering gaan bywoon, het nie opgedaag nie. Weskus Nuus se verslaggewer is ook gevra om die “geslote vergadering” te verlaat.
Volgens Bridgens, het die Atlantis-polisie se stasiebevelvoerder, kol. Michael Ledimo, by dié vergadering beklemtoon geen polisielid het ’n reg om mense aan te rand nie. Hy het ook gevra die gemeenskap moet hom kom sien as dit gebeur. Maar die klaers sê hulle is moeg van kla omdat dit op dowe ore val.
Weskus Nuus het vertroulik verneem dat Ledimo se naam ook genoem word onder die lys van polisielede wat na bewering onskuldige mense aanrand.
In die jongste voorval is ’n 15-jarige en twee ander inwoners erg deur polisielede aangerand. Die 15-jarige seun van Avondale is erg getraumatiseer nadat hy deur lede van die Atlantis-polisie aangerand en gedreig is.
Volgens die ma van die tiener, wat uit vrees vir hul veiligheid anoniem wil bly, het die voorval haar seun se lewe verander. Die ma vertel hulle was 18 Januarie tuis toe haar oom oor die muur gespring het met die polisie kort op sy hakke.
“My oom, ’n dwelmverslaafde, is erg deur die polisie op ons erf aangerand. My seun het in die midde getree en gevra waarom hulle hom so wreed aanrand. Die polisielede het hom ook in hegtenis geneem.”
Volgens die 15-jarige het die manne in blou appels geswaai en gesê, “ons sal van jou ’n vrou laat maak”.
Die seun vertel verder hoe hy in die selle die ander gevangenes se kos moes aandra en was ook saam met volwasse mans toegesluit. Die seun het later in die Atlantis-hof verskyn op aanklag dat hy ’n polisiebeampte aangerand het en die polisie verhinder het om hul pligte uit te voer.
In ’n ander voorval is ’n egpaar van Saxonsea gereed om weer hul tasse te pak en terug na Amerika te keer nadat polisiebeamptes glo dié man só aangerand het dat hy sy neusbeen gebreek en sy oordrom gebars het.
Cheslyn Williams en sy vrou Stacey-Lee, het net voor Kersfees na Atlantis teruggekeer nadat hulle twee jaar in Amerika was. “Ek wou hiér kom bly en werk, want ek is lief vir Atlantis en sy mense,” vertel Williams.
Williams vertel sy vrou het hom Oujaarsaand histeries gebel nadat polisiebeamptes hul huis deursoek het – glo op soek na dwelms en vuurwapens. “Toe ek by die huis aankom, het ek net gevra wie is in beheer, toe bars sewe soorte hel op my los.”
Williams sê hy moes hoor hy wil hom “slim hou” terwyl die houe op hom gereën het. “My vrou en ma was uit die huis geboender terwyl die polisie my slaan en op my kop spring het,” vertel hy. Volgens Williams het die polisiebeamptes niks onwettig in sy huis gekry nie en het hulle glo op ’n “anonieme wenk gereageer”.
“Ek is skaars terug in Atlantis en dit gebeur. Ek het ’n splinternuwe motor gekoop en die huis mooi gemaak. Mense neem seker nou aan ek is besig met onwettighede. Dink die mense na twee jaar in die buiteland gaan ons met kaalhande teruggekeer?”
Moses Dlamini, Opod-woordvoerder, het bevestig ’n klag van aanranding word teen polisiebeamptes in die voorvalle ondersoek.
Die Concerned Citizens-organisasie sê hy hoop om deur middel van die regsverteenwoordiger siviele eise teen die polisie in te stel en hoop ook om van die skuldige polisielede ontslae te raak.