Inwoners moeg vir swak dienslewering

Inwoners van Witsand het onlangs wind en reën trotseer om hul misnoeë uit te spreek oor die swak diensle­wering van die hospitaal, polisie en die Stad Kaapstad.


Inwoners van Witsand het onlangs wind en reën trotseer om hul misnoeë uit te spreek oor die swak diensle­wering van die hospitaal, polisie en die Stad Kaapstad.

Meer as 200 ontstoke inwoners het Donderdag 10 Mei na die sentrale sakegebied in Atlantis opgeruk om memorandums aan verteenwoordigers van die drie instansies te oorhandig.

Volgens een van die memorandums, eis die inwoners onder meer die hospitaal moet sy stelsel van afsprake hersien en die lang wagperiode voor mediese hulp verleen word moet onmiddellik gestaak word.

Die inwoners sê die hospitaal se afspraakstelsel werk nie, want pasiënte moet tot laatnag nog sit omdat daar gedurig te min dokters is om pasiënte te ondersoek.

Inwoners moet ook dan nog in die nagtelike ure reëlings tref om by die huis te kom.

Die groep dring ook aan ’n kliniek, biblioteek en skool moet in Witsand, net buite Atlantis opgerig word. Die groep is ook ontevrede oor hoe lank dit die polisie neem om op te daag.

Hulle meen ook kriminele word vrygelaat sonder hulle in die hof verskyn het.

Volgens die memorandum wil die inwoners ook weet wat die polisie met gesteelde goedere doen wat hulle terugvind.

Volgens Thobile Maseti, die voorsitter van Sanco (Suid-Afrikaanse Nasionale Burgerlike Organisasie), moet die raadslid van wyk 32, Barbara Rass, en die subraad dringend na hul behoeftes kyk.

Hy sê voorts die gebied is saans pikdonker weens ’n tekort aan straatligte.

“Dis duidelik dat die Stad nie vir inwoners van Witsand omgee nie, daar is nêrens eers ’n spoedhobbel nie en motors jaag in die nou strate.”

Maseti het ’n pleidooi gedoen op amptenare dat dié inwoners se lewe ook verbeter word.

Rass het op haar beurt gesê sy begroot wel vir die gebied, maar sy kan ongelukkig ook net soveel doen met die toelaag wat die wyk ontvang. Sy sê ook gerugte dat sy nie inwoners erken is van alle waarheid ontbloot omdat sy reeds talle vergaderings met gemeenskapsleiers gehou het.

You need to be Logged In to leave a comment.