Inwoners neem verantwoordelikheid vir jeugsentrum

Inwoners het die afgelope week gewys vele hande maak ligte werk toe hulle self die geplunderde Dura-jeugsentrum skoongemaak het.


Inwoners het die afgelope week gewys vele hande maak ligte werk toe hulle self die geplunderde Dura-jeugsentrum skoongemaak het.

Die jeugsentrum is in die hart van die bende-geteisterde Dura-woonstelle geleë en was aanvanklik deur die provinsiale regering opgerig.

Inwoners voel egter hulle kon nie eienaarskap van die jeugsentrum neem nie, omdat hulle nooit direk by die sentrum baatgevind het nie.

Sakiena de Klerk (60) en Gertruida Klaasen (50), sê die sentrum was voorheen ten volle benut, maar die Stad het alles gestop en nou is dit ’n wit-olifant.

“Ons noodkreet, dat die plek aan die gemeenskap gegee moet word, val op dowe ore. Ons kan die kinders besig hou in die plek en so help om misdaad te verminder,” sê de Klerk.

’n Ander inwoner, Masnoena Pietersen, sê hulle sal self verantwoordelikheid neem vir die sentrum en dienste soos ’n internetkafee en dagsorgsentrum hier oprig waarby die gemeenskap direk sal baat vind.

Die departement van plaaslike regering was aanvanklik in die sentrum gehuisves, dit het ook gedien as ’n jeugsentrum, TB-programme was hier gehou en kerke het die gebou gehuur vir dienste en troues. Na ’n reeks inbrake het die huurders die gebou ontruim en is die dienste gestop. Sedertien, word die gebou erg geplunder. Die Stad Kaapstad het ’n sekerheidsmaatskappy aangestel om verdere plundering te verhoed en die gebou is weer opgegradeer.

Hierdie keer is die sentrum deur wyksraadslid, Barbara Rass, geoormerk as ’n krisissentrum, maar die Stad se gesondheidsafdeling het laat weet dat hulle nie die nodige kapasiteit het vir só ’n inisiatief nie.

Geen ander regeringsafdelings wou die gebou oorneem nie en gemeenskapsorganisasies wat geïnteresseerd was in die gehou, het onttrek weens vrese oor hulle veiligheid. Daar is ’n mosie by die subraad ingedien om die gebou te stroop.

Tydens ’n tweede proses het gemeenskapsorganisasies weer belangstelling in die gebou getoon en ’n besluit is geneem om die gebou te verkoop deur middel van ’n veiling of tenderproses.

Hierdie besluitneming is onderhewig aan openbare deelname.

You need to be Logged In to leave a comment.