Operasie Fiela-klopjagte is verlede week in Atlantis uitgevoer en inwoners van die Heathfield-woonstelle is verontwaardig.
Joyce Gysman en Felicity Constable is woedend vir polisiebeamptes wat hul huise onderstebo gedop het.
Gysman vertel dat die polisie Donderdag 8 Februarie net ná 11:00 op haar huis toegeslaan het op soek na vuurwapens. Sy sê haar twee seuns, wat volgens haar geen bande met enige bendes het nie, was alleen by die huis toe die polisie opdaag.
“My kinders mag toe skielik nie in die huis gaan nie en moes buite wag terwyl hulle die plek omdol. Ek is al so moedeloos met die polisie wat elke keer hier kom vuurwapens soek en onskuldige mense teiken,” vaar sy uit.
Nóg ’n inwoner, Constable, is ook moedeloos omdat haar leersitkamerstel oopgesny is.
“Ek het die stel baie moeilik bekom,” sê Constable wat as ’n huishulp werk.
Volgens die buurvroue word hulle elke keer geteiken en dit sonder enige sukses. “Elke keer verduidelik ons dat die beamptes dalk ’n verkeerde adres het, maar hulle hou vol dat ons bendes en gesteelde goedere aanhou,” verduidelik die moedelose vroue.
Die buurvroue wou glo ’n saak by die Milnerton-polisiekantoor teen die beamptes gaan open, maar hulle is meegedeel dat hulle ’n brief aan die Atlantis-bevelvoerder moet skryf en dan verduidelik waarom hulle ongelukkig is.
Volgens konst. Henry du Randt, ’n polisiewoordvoerder bevestig die polisie eers inligting voordat hulle optree en het hy aanbeveel dat die vroue by enige polisiekantoor ’n klagte kan gaan indien.