Inwoners sit steeds in die donker

Inwoners van Kanonkop braak behoorlik gal omdat hulle steeds sonder krag sit.


Inwoners van Kanonkop braak behoorlik gal omdat hulle steeds sonder krag sit.

Woedende inwoners sê hulle is nou keelvol dat almal net skouers optrek oor wanneer die krag aangesit sal word.

Volgens Christelda Moses (37) is die 46 nuwe huiseienaars 29 Oktober 2018 hand en tand belowe dat hulle slegs drie tot vier weke vir hul krag sal wag. Sy vertel voorts dat mense in nood is vir huise en het ingestem om in te trek met die wete dat die krag sal volg.

“Min het ons geweet dat ons eindelik probleme vir onsself skep,” vertel sy.

Die weke het nou al drie maande geword en nou raak dieselfde ampte­naar onbeskof met ons as ons gaan vra wanneer kom die krag.

Volgens Maria Scholtz het meer mense intussen ingetrek en altesaam 120 mense sukkel nou om krag te kry.

“Hulle het belowe en ons het hulle jammer gekry toe die amptenaar sê die huise word afgebreek as mense nie intrek nie,” vertel Scholtz.

Isabela du Preez vertel dat die mense niks van hulle dink nie omdat diere in beter omstandighede bly.

Du Preez het gewys dat sy in die moderne lewe steeds met goed moet klaarkom wat haar ouma destyds gebruik het.

Michael Waits, wat met lewerkanker sukkel, vertel dat hy saans buite moet sit weens die bedompigheid in die huis omdat daar geen ventilasie is.

Hy vertel ook dat hy eersdaags ge­­opereer moet word en voorsien ’n moeilike tyd vorentoe sonder krag. Inwoners is dit eens dat amptenare en raadslede moet kom kyk in watter omstandighede hulle woon omdat baie van die mense sieklik en gestremd is. Volgens die wyksraads­lid Barbara Rass was sy van die begin af gekant dat men­se by die huise moes intrek waar daar nie elektrisiteit is nie.

“Ek was ongelukkig nie geken in die saak toe die huise oorhandig is nie,” het sy gesê. Volgens raadslid Grant Twigg, burgemeesterskomiteelid vir stedelike bestuur en ontwikkeling, het hy reeds vroeg in die nuwe jaar persoonlik inwoners om verskoning gevra dat hulle huise sonder krag ontvang het. Volgens Twigg het hy amptenare gemaan om die probleem op te los en sê hy vergader weer Donderdag 14 Februarie met die inwoners van Kanonkop.

You need to be Logged In to leave a comment.