Inwoners van Kanonkop sit na vele vergaderings en beloftes steeds sonder krag.
Die inwoners sê hulle weet nie meer vir wie hulle moet glo nie aangesien “amptenare een storie het en die raadslede ’n ander”.
Volgens Carol Jones van Kanonkop het raadslid Cynthia Clayton glo vroeër gesê die probleem is opgelos. “Weer was beloftes gemaak dat die kontrakteurs reeds verlede week sou begin,” verduidelik sy.
Sy vertel: “Met ’n telefoniese gesprek met ’n amptenaar was Clayton meegedeel die kontrakteur is besig om die materiaal by die Stad Kaapstad se stoorplek in Atlantis te laai. Dit het later aan die lig gekom dat dit ’n leuen was. Ons weet nie meer wie ons kan glo nie.”
Clayton het die aantygings ontken. Sy het Maandag 11 Maart aan Weskus Nuus gesê die “kontrakteur sal binnekort begin”.
Dié groep inwoners het Donderdag 7 Maart weer na die plaaslike raadskantoor opgeruk om te luister waar hul elektrisiteitstoevoer is.
Volgens wyksraadslid Barbara Rass, kom die beloftes van amptenare en nie raadslede nie. Rass sê sy is deur ’n senior munisipale amptenaar ingelig dat die kontrakteur reeds verlede week sou begin om aan die inwoners se elektrisiteitstoevoer te werk. Daarna het die kontrakteur glo weer gewag vir ’n amptenaar om te teken vir die materiaal.
Inwoners het Vrydag 8 Maart die kontrakteur verhinder om nuwe huise aan begunstigdes te oorhandig. “Hulle (die raadslede en amptenare) is bang om na Kanonkop te kom en vra nou die kontrakteur om die huise aan begunstigdes te gee,” sê Jones.
Volgens ’n senior werker van die kontrakteur was hulle gevra om die huise aan begunstigdes te gee. Hy sê begunstigdes ontvang nou hul huise sodat hulle self daarna moet kyk.
“Ek verstaan nie waarom die mense self na die huise moet kyk terwyl die Stad verantwoordelik vir die veiligheid is nie,” het die werker, wat anoniem wou bly, gesê. Teen druktyd het inwoners steeds op hul elektrisiteit gewag.