‘Jaag jou drome na en moenie tou opgooi nie’

Dit het gelyk of matriek nie vir hom beskore was nie, maar harde werk en ’n droom vir ’n beter toekoms het Venito Cloete (22) aangespoor.


Dit het gelyk of matriek nie vir hom beskore was nie, maar harde werk en ’n droom vir ’n beter toekoms het Venito Cloete (22) aangespoor.

Venito het onlangs aan Damelin met drie onderskeidings gegradueer.

Deesdae is hy gewapen met ’n diploma in finansiële rekening­kunde, maar ’n paar jaar gelede kon hy nie eens matriek voltooi nie.

“Toe ek in 2014 matriek gedruip het, het dit vir my gevoel of my hele wêreld inmekaar tuimel, maar met ’n bietjie selfmotivering het ek besluit om my matriek oor te skryf. Die noodlot was beslis teen my, want wéér het ek dit nie gemaak nie. Ek het geweier om op te gee, want ek wou beslis ’n bright future hê,” verduidelik hy.

Die oudleerder van Proteus Hoër Tegniese skool was mismoedig en het besef die opofferinge wat sy ouers, Connie en Paulsten, moes deurmaak om hom te sien uitstyg was verniet. Hierna het hy na Damelin gegaan waar hy onmid­dellik verder begin studeer het.

“Ek het besluit om te gaan studeer om my ouers trots te maak en vandag het ek ’n diploma in finansiële rekeningkunde. Indien dit nie vir my ouers se ondersteuning was nie, het ek seker lankal die handdoek ingegooi,” vertel hy.

Hy moedig die jong mense aan om hul drome na te jaag en nie tou op te gooi nie.

You need to be Logged In to leave a comment.