Jaloesie dalk rede vir brand

’n Jaloerse kêrel is na bewering die rede waarom ses gesinne dié Kerstyd ’n baie moeilike tyd gaan deurmaak.


’n Jaloerse kêrel is na bewering die rede waarom ses gesinne dié Kerstyd ’n baie moeilike tyd gaan deurmaak.

Ses gesinne is Vrydag 8 Desember dakloos gelaat en baie ander huise het heelwat skade opgedoen nadat ’n brand na bewering by ’n wendyhuis in Tsitsikammastraat, Kanonkop ontstaan het.

Volgens Anastacia Mackay (18) is sy en haar kêrel, Franklin du Bois, by wie sy glo gebly het, onlangs uitmekaar.

Du Bois se nuwe vriendin se ekskêrel het glo meer gereeld in die straat rondgedwaal.

“Hy het my vertel hoe seer hy voel omdat sy meisie hom gelos het, maar ek wou niks met dit te doen gehad het nie. Vrydagmiddag het hy weer hier rondgeloop terwyl almal nog by die werk was. Die volgende oomblik het Franklin se wendyhuis woes begin brand. Ek het die ou vinnig by die erf sien uithardloop,” vertel Mackay aan Weskus Nuus.

Volgens kapt. Cyril Dicks, woordvoerder van die Atlantis-polisie, dra hy kennis van die brand, maar bevestig dat die polisie nie ’n saak van brandstigting ondersoek nie.

Volgens Mackay, wou die polisie­beamp­tes op die toneel glad nie na haar luister nie, en was deur die beamptes gesê om nie “na hoorsê te luister nie”.

Nog ’n inwoner wat deur die brand geraak is, is Nicolene Laberdien, ’n enkelouer met vyf kinders. “Dit is mos nie ’n lekker gevoel om huis toe te kom en sien jou blyplek is tot op die grond afgebrand nie. Ek het onlangs die wendyhuis gekoop en werk hard om my kinders te onderhou,” vertel Laberdien.

Desiree Alexander, nog ’n enkelouer met drie kinders, sê tot haar kinders se Kerfeesklere het deurgeloop. Haar wendyhuis het ook afgebrand en sy, soos Laberdien, het ook alles verloor. Volgens tannie Ivy Thomas, het die brand agter in haar erf ontstaan terwyl sy ’n uiltjie geknip het. “Ek weet nie presies wat gebeur het nie.”

Volgens wyksraadslid, Barbara Rass, het die Stad uitgereik na die inwoners en wou hulle tydelike blyplek in ’n gemeenskapsaal reël, maar dit was geweier. Rass, wat op die toneel was, sê sy is baie bly dat die gemeenskap en ondernemings in Atlantis mekaar so goed in nood ondersteun.

You need to be Logged In to leave a comment.