Sowat 250 jeugdiges het Vrydag 19 Mei ’n pledge geteken om weg te bly van dwelms.
Die inisiatief is gereel deur Extreme Youth, ’n nie-winsgewende organisasie wat met die jeug werk en in samewerking met Cape Town Drug Counselling Centre gehou.
Een van die gassprekers op die aand was wyksraadslid Cynthia Clayton, wat belowe het om die organisasie te ondersteun.
Clayton het gesê sy sal ’n addisionele R200 000 beskikbaar maak in haar 2018-’19 finansiële jaar-begroting vir organisasies soos Extreme Youth, waarvoor hulle moet aansoek doen.
“Ek sal sorg dat almal iets te ete het en ’n duisend geskenke borg vir volgende jaar se funksie,” het sy bygevoeg.
Sy het ook die jeug gemaan om meer respek te toon teenoor ouer mense en mekaar en om basiese geloofsbeginsels te volg.
Die tema vir die aand se verrigtinge, wat groepswerk en ’n talentkompetisie ingesluit het, was: Ek weet wie ek is.
Sers. Denver Abrahams, van die Atlantis-polisie, het tydens sy spreekbeurt die jeug aangemoedig om nie die polisie te vrees nie.
“Kom na die polisie om hulp wanneer jy ’n dwelmprobleem het, ons kan die nodige verwysings doen,” het hy gesê.
Hy het ook die jongmense vertel hoe dwelms hul lewens kan verwoes en gesê ’n pro-aktiewe benadering – deur jeug aan te moedig om nie dwelms te gebruik nie, kan ’n afname in misdaad beteken.
Stigter van Extreme Youth en organiseerder van die aand se verrigtinge, Michelle Fortuin, het die jeug aangemoedig om die pledge te teken al misbruik hulle nie dwelms nie.
“Ek misbruik nie dwelms nie, maar ek word ook hierdeur geraak” het Fortuin gesê.
Elkeen wat die pledge geteken het, het ook ’n armband as geskenk ontvang.