Die Milnerton-kluster beoog om met die viering van Jeugdag 500 jeugdiges in Atlantis te vermaak.
Volgens Abdul Tajoodien,voorsitter van die kluster se gemeenskapspolisiëringsforum, gaan al nege stasies jeugdiges van tussen die ouderdom van 10 en 14 jaar by die veeldoelige sportkompleks in Atlantis laat bymekaarkom. Die byeenkoms gaan op 24 Junie plaasvind.
“Die doel van die saamtrek is om die jongspan bewus te maak van misdaad en bendebedrywighede,” sê Tajoodien.
Op dié dag sal daar uitstallings gehou word en ’n optog teen misdaad en praatjies oor misdaad sal deel van die dag se verrigtinge uitmaak. Die jongspan sal ook met gesigverf en eetgoed bederf word.
Die funksie word in samewerking met plaaslike kerke en gemeenskapsorganisasies gehou.