Die Atlantis-misdaadvoorkomingseenheid het Donderdag 8 Maart inligting uit die gemeenskap ontvang oor onwettige vuurwapens.
Die eenheid het onmiddellik die inligting opgevolg in Mortimerstraat, uitbreiding 12. Volgens kapt. Cyril Dicks, polisiewoordvoerder, het die eienaar van die huis toestemming gegee dat die eenheid wel die huis mag deursoek.
“Die lede het elke vertrek noukeurig deursoek totdat hulle die kamer van die jeugdige binnegegaan het, waar hulle twee vuurwapens met ammunisie in sy besit gekry het.
“Die 17-jarige verdagte is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie en het reeds in die hof verskyn,” sê Dicks.
Volgens die stasiebevelvoerder, lt.kol. Michael Ledimo, is daar baie meer vertrouelinge uit die gemeenskap wat sulke inligting aan die polisie deurgee.
Hy het die gemeenskap bedank vir hul bydrae tot die bekamping van misdaad en ook die vinnige optrede van die betrokke polisielede. Met dié vonds is daar beslis nog meer skietvoorvalle verhoed het hy gesê.