Die gemeenskap van Mamre het Saterdag 30 Junie grootliks baat by ’n jeugfees gevind wat georganiseer is om die jongmense van die dorp oor verskeie inisiatiewe in te lig.
Dié fees, gereël deur die Stad Kaapstad, die Wes-Kaapse regering en in samewerking met die Mamre-vereniging vir gemeenskaplike eiendom, was die eerste van sy soort.
Oud en jonk was vermaak deur plaaslike kunstenaars terwyl die jongspan met lekkernye getrakteer is terwyl hul gesiggies geverf is. Sportaktiwiteite is ook deur die Stad se departement van sport en rekreasie gehou.
Die fees was nie net pret en plesier nie, maar uitstallings van tersiêre instansies, Weskus Kollege en die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) was opgestel wat inligting oor verskeie loopbaangeleenthede, aangebied het.
Verskeie organisasies het ook inligting aan die jongmense gebied. Die biodiversiteitorganisasie, Cape Nature, Mamre-biblioteek en die plaaslike welsynsorganisasie het uitstallings gehou om hul rol in die gemeenskap uit te lig.
Mamre se sportwetenskapdokter, Wilbur Kraak, het die jongmense toegespreek oor loopbaangeleenthede. Hy het gesê dit is tyd vir die gemeenskap om eienaarskap van hul dorp te neem en om hul lewe te verbeter.
Die dorp se gunstelingsport, rugby, se geskiedenis was ook tentoongestel.
Daar was ook dank betuig aan elke Mamre-buurtwaglid wat saans hul tyd opoffer om misdaad te bekamp deur ’n R500 donasie te oorhandig wat geborg is deur die Stad Kaapstad en Wes-Kaapse regering.