Ná ’n reeks nederlae vir Jomo’s Power-sokkerklub die afgelope paar weke, het die span weer sy wenmomentum teruggevind.
Die manne in blou se wedstryde en spelpatroon was ietwat soos ’n tuimeltrein, wat soms opwaarts gaan en dan skielik weer na onder terugsak. Eers het die span teen Mbokweni Cosmos van Khayelitsha in die ABC Motsepe-liga vasgeval en ’n week daarna verbrou hy sy geleentheid in die Nedbank-bekertoernooi se halfeindstryd tuis teen Steenberg United FC.
Maar die sokkerwêreld is onvoorspelbaar en die span glo dat hy iets uit sy nederlae geleer het.
Jomos se tuiswedstryd teen Houtbay United, 12 Oktober, het weereens bewys dat daar nog baie wengees in die span heers.
’n Briljante vertoning deur die doelwagter, Jowayde Petersen, en doele deur Johnty van Graan en Dyan Momberg het verseker dat die eindtelling 2-1 was, wat nog drie punte aan Jomo’s gegee het.
Jomos beklee tans die tiende posisie op die ligapunteleer.
Die span kon nie die afgelope naweek met die span van Athlone, Glendene United FC afreken nie en het die wegwedstryd met 2-1 verloor.
Die einddoel is aangeteken ná ’n strafskop.
Afrigter Lonn van Graan, sê dit is terug na die tekenbord vir die plaaslike span nadat hy talle geleenthede op ’n doel verbrou het. Daar sal aanpassings gemaak moet word voor die span se volgende wedstryd Vrydagaand 9 November teen D&G Orient FC van Manenburg op sy tuisveld in Atlantis. Dié span is twee plekke onder Jomo’s op die punteleer.