Die geluksgodin het uiteindelik Atlantis-sokker besoek en Jomos Power gehelp om sy ABC Motsepe-ligastatus te behou.
Eerstens het Lonn van Graan se span in sy laaste ligawedstryd uiteindelik tot sy volle potensiaal gespeel en Grassy Park United in Robinvale met 6-3 verwoes.
Aldrich Brandt, Valentino Thomas en Wayne Hare het doele voor rustyd behaal om die tuisspan met 3-2 voor te laat loop. Brandt en John van Graan (2) het ná die rustyd die nette warm gemaak.
Die oorwinning het die Blou Duiwels uit die relegasiesone laat skuif, maar hy moes vir ’n week op sy knieë gaan, aangesien nog ’n Wes-Kaapse span, Ubuntu FC, wat in die nasionale eersteliga meeding, sy wedstryd op Parow Park teen TTM FC moet wen. As Ubuntu verloor het, dan sou Jomos Power volgende seisoen in die Castle Liga deelneem. Die span van Parow het egter nie die horde Blou Duiwel-ondersteuners teleurgestel nie, want hulle het die span van die Vrystaat met 3-1 geklop en Jomos Power se bas gered.
Lonn van Graan, bestuurder en afrigter van Jomos Power, stem saam dat sy span ’n seisoen ondervind het wat hulle so gou as moontlik wil vergeet. Jomos Power sal ook ’n groot borg moet kry, want daar is ’n reël dat ’n sekere getal o.23-spelers moet speel en daar is groot onkoste betrokke. Baie van die spelers se ouers is werkloos en sommige van hulle studeer. As dit nie gebeur nie, is daar ’n moontlikheid dat die span die ABC Motsepe-ligaspan kan verkoop.
In die afseisoen sal hy saam met die grootkoppe van Jomos Power, nuwe na nuwe talent op Atlantis se velde soek. Die klub wil egter alles moontlik maak om die jeug van Atlantis op die sokkerveld te laat juig.