Jomos Power vertoon skaflik in strawwe liga

Jomos Power se afrigter, Lonn van Graan, sê hy is tot dusver tevrede met sy span se vertoning in die strawwe ABC Motsepe-liga.


Jomos Power se afrigter, Lonn van Graan, sê hy is tot dusver tevrede met sy span se vertoning in die strawwe ABC Motsepe-liga.

“Ons gaan niks terughou wanneer die liga in 2017 hervat word nie. Daar is nog vele wedstryde oor en die trots van Atlantis-sokker sal beslis weer blom,” meen van Graan.

Dit volg ná die span sy wedstryd Vrydag 9 Desember teen Sizwe United van Nyanga verloor het en Saterdag 3 Desember gelykop gespeel het teen Ikapa Sporting.

Van Graan sê jonger spelers sal volgende jaar kans kry om saam met veteraanspelers op die veld te hardloop en dit sal ’n verskil maak in die span-dinamika en weer belangstelling onder ondersteuners wek.

Onnodige foute het Jomos Power 2-4 laat verloor teen Zizwe United ondanks Thapes Brandt se doel in die eerste vyf minute van die wedstryd.

Ná die doel was die Blou Duiwels egter planloos en het die deur oopgelos vir die tuisspan om drie doele aan te teken. In die laaste 15 minute van die wedstryd het Cornell Tities Jomos se tweede doel behaal.

Op 3 Desember het Jomos Power 1-1 gelykop gespeel teen Ikapa Sporting op die Saxonsea-sportveld.

Die besoekende span is tans die voorloper op die liga-punteleer terwyl Jomos Power in die relegasie-sone van die liga is. Dié wedstryd moes die tuisspan nooit verloor het nie. Die span speel aanvallende sokker en is baie ongelukkig om nie doele te behaal nie.

Agterlangs is die verdedigers baie versigtig om foute te maak as gevolg van druk van hul teenstanders. Nathaniel van Graan het in die tweede helfte van die wedstryd die gelykmakende doel behaal. Albei spanne het die wedstryd met 10 spelers geëindig nadat die skeidsregter twee spelers die trekpas gegee het.

Wedstryddatums vir Januarie 2017: Vrydag 13 weg in Stellenbosch teen United om 19:30, Saterdag 21 teen Ajax Cape Town en die 28ste teen Barcelona, albei is tuiswedstryde op Saxonsea-sportveld om 15:00.

You need to be Logged In to leave a comment.