Jomos struikel tuis

Die tweede been van die ABC Motsepe-liga het pas begin en daar is reeds gemengde gevoelens oor Jomos Power se spel.


Die tweede been van die ABC Motsepe-liga het pas begin en daar is reeds gemengde gevoelens oor Jomos Power se spel.

Vrydag 13 Januarie het die plaaslike span United in Idasvallei, Stellenbosch, geklop met ’n telling van 3-2. Eldridge Brandt en Johnty van Graan (2), het Jomos se doele aangeteken, waarvan die tweede in die doodsnikke van die wedstryd behaal is.

Maar Saterdag 21 Januarie was die skoen aan die ander voet toe Ajax Cape Town hulle met dieselfde telling oorrompel het. Die tuiswedstryd op die Saxonsea-sokkerveld is voor ’n groot skare toeskouers, wat die erge hitte trotseer het, gespeel.

Verdediger- en middeveldfoute het tot twee doele teen Jomos gelei in die eerste helfte en Lonn van Graan se span was 0-2 agter teen halftyd.

Die tweede helfte het baie stadig begin, maar die toeskouers kon opmerk dat ’n meer positiewe Jomos op die veld gehardloop het.

Johnty van Graan is gepootjie net buite Ajax se doelgebied en het met ’n vryskop deur Virgil Sampson vir Jomos in staat gestel om hul eerste doel te behaal.

Met 15 minute op die klok het Nathaniel van Graan die speelveld betree.

Ajax se doelwagter het ’n fout gemaak en die einste van Graan het ’n vryskop in die doelhok gebêre om die telling gelyk te maak.

Die Jomos-ondersteuners se vreugde was kortstondig, want kort voor voltyd het Jomos Power se verdediging weereens ’n oordeelsfout begaan en Ajax in staat gestel om die wendoel te behaal.

Dit was ’n bitter pil vir die Blou Duiwels en hul ondersteuners, aangesien hul span reeds op die onderste helfte van die punteleer lê.

Jomos het Saterdag 28 Januarie teen Barcelona van Beaufort-Wes gespeel en hul tweede nederlaag in die eerste ronde gehad.

Die Blou Duiwels het tuis op die Saxonsea-sportveld gespeel en het 0-1 teen die besoekers verloor.

Die wedstryd is teen ’n geweldige pas gespeel en albei spanne het vele kanse gehad om doele te behaal. Jomos was die grootste sondaar.

Alles was egter vergete toe Trompie Kotze in die doodsnikke die wendoel behaal met ’n briljante vryskop.

.Jomos reis Vrydagaand 3 Februarie na Mutual Park waar hulle teen Magic te staan kom.

You need to be Logged In to leave a comment.