Jomos Power het Vrydag 3 Maart die louere met Grassy Park United gedeel toe hulle 1-1 gelykop gespeel het.
Grassy Park United word tans vierde geplaas op Safa se ABC Motsepe-liga punteleer.
Jomos Power is vuurwarm in wegwedstryde en baie koud in tuiswedsryde. Sowat drie weke gelede het die einste Blou Duiwels ’n wegwedstryd teen Milano oortuigend gewen en die volgende Saterdag vasgeval in hul tuiswedstryd teen FC Cape Town.
Die wedstryd op Grassy Park-sportveld is teen ’n vinnige pas gespeel en was baie opwindend. Albei spanne se verdediging was skitterend deur talle doelkanse te keer en die rustydtelling was doelloos. Die Blou Duiwels was ongelukkig om na 15 minute se spel in die tweede helfte agter te loop ná uitmuntende spel deur die tuisspan se doelskieters. Minute daarna het John van Graan egter Jomos Power se gelykmakende doel behaal. Dit was ’n skitterdoel en Jomos se middeveld het beslis ’n hand in die doel gehad.
- Jomos het Saterdag 11 Maart uiteindelik ’n tuiswedstryd gewen. Hulle het Cultural Roots met 3-1 op die Saxonsea-sportveld geklop. Wayne Hare het twee van die wendoele, die eerste na vyf minute se spel, aangeteken en Clement Fortuin die derde.
Saterdag 18 Maart pak die Blou Duiwels vir Atlantic National en op 21 Maart pak hulle weer vir Cultural Roots in ’n uitstaande eerste ronde-wedstryd.