Vervoerprobleme kon die naweek nie die Jomos Power-span van stryk af bring in sy belangrike ABC Motsepe-ligawegwedstryd teen Morning Stars van Gansbaai nie.
Jomos het die span Saterdag 17 November met ’n doel getroef en was in ’n stadium met 3-0 voor.
Doele deur Zandré Booysen, Cornel Tieties en Monelisi Phalamahashe het verseker dat Jomos teen rustyd voorgeloop het. Enkele minute vóór die eindfluitjie geblaas het, het die skeidsregter twee strafdoele aan Morning Stars gegee wat die eindtelling 3-2 gemaak het.
Jomos se wenkans het laat in die tweede halfte verflou toe die skeidsregter in die 40ste minuut nóg ’n strafskop aan die tuisspan gegee het.
Met ’n gelykopuitslag wat die span se voorland was, het Jomos se doelwagter egter met briljante keerwerk verseker dat ’n oorwinning binne sy bereik bly. Jomos moes daarna keer vir al wat hy werd is nadat 10 minute ekstratyd toegelaat is. Jomos se gelykopwedstryd (4-4) Vrydag 9 November teen Ocean View FC in Robinvale en die naweek se wen teen Morning Stars beteken dat Jomos vier punte in sy laaste twee wedstryde verower het. Dié span het van die 14de plek na die negende plek op die punteleer geskuif – slegs vier punte onder die vyfde gekeurde Zizwe United.
Jomos se volgende wedstryd is 30 November tuis teen Zizwe United.