Atlantis kan dalk binnekort nog ’n groep jong mense op die kassie te siene kry noudat ’n plaaslike filmmaker aan die werk is.
Die 29-jarige Theophilus Phiri van Sherwood Park het onlangs sy eie reeks, The Next Unknown, vervaardig en verfilm.
Theophilus, wat dié reeks se regisseur en skrywer is, sê hy sou nooit kon droom dat sy reeks ooit ’n werklikheid sou word nie.
Theophilus sê hy wou altyd op skool ’n akteur geword het en het by die dramagroep aangesluit.
Hy sê ook sy liefde het só gegroei dat hy selfs ’n draaiboek begin skryf en vervaardig het, maar dit was nie juis ’n groot sukses nie omdat hy meen hy het ’n beter aanvoeling vir ’n reeks as ’n fliek.
Theophilus noem ook hy het nooit gaan studeer of enige kursus voltooi nie, maar het deur jare se rondspeel op verskillende programme vaardighede aangeleer.
Dié “rondspeel” het hom gemotiveer om eendag sy eie reeks te voltooi.
In Oktober 2017 het hy aan sy meesterstuk, The Next Unknown, begin skryf. Daarna het hy dit saam met ’n paar van sy vriende van Sherwood Park begin verfilm.
Theophilus sê hy wil graag eendag die reeks met die hele Suid-Afrika deel en voeg ook by, “die geheim is dat aanhouers wen en om nooit op te gee op jou drome nie”.
Hy meen jy “go for the kill, even if it’s embarrassing”.
Die reeks se eerste vier episodes word binnekort op Phiri se YouTube-kanaal bekendgestel.