“Die bloed gaan nog behoorlik vloei in Atlantis.”
Dít volgens ’n betroubare polisiebron oor die voortslepende bendegeweld in die dorp die afgelope twee naweke.
Die hof het glo vir Randall Koopman (25) gewaarsku dat hy nie in Atlantis-omgewing mag kom tot sy volgende hofverskyning nie, maar hy het hom klaarblyklik nie hieraan gesteur nie, want die einste Koopman is Saterdag 19 Augustus in Mamre geskiet.
Volgens ’n bron is Koopman net na middernag in Enonstraat geskiet, waar hy en twee ander vriende parkeer het. Hy is vermoedelik in die kop en been geskiet en het later in die hospitaal aan sy wonde beswyk.
Volgens die polisiebron is Koopman of “Naels” soos hy alombekend was, uit op borgtog vir ’n saak van poging tot moord. Sy borgvoorwaardes het bepaal dat hy in Abbotsdale moet bly. Hy het reeds glo ’n vorige keer sy borgvoorwaardes verbreek en is met ’n R 1000 beboet. Die oorledene is op Facebook as ’n “liewe mens” beskryf wat “graag ander gehelp het” en met “verkeerde vriende deurmekaar geraak het.”
Sers. Noloyiso Rwexana, ’n provinsiale polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê niemand is nog in hegtenis geneem nie.