Mamre-judoklub is skaars ’n maand oud en het reeds 25 medaljes verower.
Die sowat 60 klublede, wat deur sensei Quinn Okkers en hulpafrigter Melanie September afgerig word, is 8 Augustus geopen en het ’n maand later aan hul eerste kompetisie, die Kaapse judo-opetoernooi in die Belhar-sportkompleks, deelgeneem.
Okkers sê die lede het bo verwagting presteer en nie minder as 25 medaljes verower, waarvan sewe goud, 13 silwer en vyf brons.
Die klub oefen twee keer per week en het die sport onlangs na die res van die gemeenskap uitgebrei deur in parke te oefen.
“Ons het judo in Mamre bekendgestel om ’n bydrae tot die opheffing van die gemeenskap te lewer. Ons wil die jeug bemagtig deur vir hulle dissipline te leer en so wetteloosheid bekamp,” sê Okkers.
Hy sê ander voordele wat judo inhou, is die ontwikkeling van selfvertroue, trots en doelgerigtheid en ook die aanleer van verdedigingtegnieke.
Okkers, wat provinsiale kleure by die Weskus- en Boland-unies vir die sport verwerf het, het ook al aan die Suid-Afrikaanse kampioenskap deelgeneem en deel graag sy passie vir die sport met ander.
Die span reis 28 Oktober na George om aan ’n kompetisie deel te neem en hoop om op hul vorige prestasie te verbeter.