Juffrou Cloete lê tuig ná 36 j. neer

Filla Cloete, wat deur haar man, James, as die “Amandel van Wolseley” beskou word, het ná 36 jaar diens as onderwyser by Grosvenor Primêr die tuig neergelê.


Filla Cloete, wat deur haar man, James, as die “Amandel van Wolseley” beskou word, het ná 36 jaar diens as onderwyser by Grosvenor Primêr die tuig neergelê.

Skoolpersoneel het hierdie spontane opvoeder, wat van jongs af daarna gestreef om ’n onderwyser te wees vir oulaas gegroet.

Cloete en ander moes as kinders lang afstande na W.F. Loots Primêr in Wolseley aflê.

Sy onthou sy het een oggend, terwyl sy op pad skool toe was, die gedagte gehad dat sy eendag by W.F. Loots Primêr soos haar destydse graad-een-onderwyseres, juffrou Bennett, sal opdaag en deur leerders met ’n “goeie môre, Juffrou”, begroet word.

Sy het haar laerskoolopleiding aan W.F. Loots in 1977 voltooi en in 1979 haar junior sertifikaat behaal, waarna sy in 1980 as student by die Athlone-onderwysopleidingskollege begin studeer het.

Cloete moes in vakansies op plase werk om haar inkomste vir haar studies aan te vul.

Haar enigste broer, Coby Cupido, ’n bewaarder by Korrektiewe Dienste, het vir haar studies betaal.

Dié onderwyseres het haar diplomakursus ná drie jaar voltooi en aan gegradueer.

Haar onderwysloopbaan as graad 3-opvoeder by La Plaisante NGK Primêr in Wolseley het in 1983 begin.

Sy is as 20-jarige jong vrou in 1986 permanent deur die WKOD na Grosvenor Primêr in Atlantis oorgeplaas.

Cloete het 36 jaar by Grosvenor Primêr skoolgehou, waarvan sy die laaste ses jaar die departementshoof in die grondslagfase was.

In hierdie tyd het sy ook haar hoëronderwysdiploma verwerf.

Ná 40 jaar van onderwys groet Cloete Grosvenor Primêr nou finaal.

“Soos Wolseley vir my spesiaal is, so is Grosvenor en Atlantis, wat my tweede tuiste geword het, ook vir my,” vertel sy.

“Ek sal gewis my kollegas by Grosvenor mis – veral hul ondersteuning en kameraadskap. ’n Spesiale dankie aan my kollega Petra Jonkers, saam met wie ek ’n pad van 36 jaar by Grosvenor geloop het. Onderwys is ’n proses van leer, en dit sal jou net ’n beter onderwyser maak as jy by jou omgewing inpas,” sê Cloete.

“Terens Adams, die hoof, was veral onvergeetlik gedurende my laaste ses jaar by Grosvenor. Hy bring nie net ’n ander kant van ’n mens na vore nie, maar ook die beste.

“Ek glo dit is nou tyd vir my om meer tyd saam met my gesin en ons kleinkinders deur te bring,” sê Cloete oor haar toekoms ná haar uittrede.

You need to be Logged In to leave a comment.