“Die nuwe Sassa-kaart mors ’n mens net rond,” sê Andrew Cleophas (73) van Saxon Sea.
Cleophas is een van talle Sassa-begunstigdes wat in Junie hulle geld láát ontvang het.
Cleophas vertel aan Weskus Nuus hoe hy die hele Junie agter sy “geldjies moes aanloop” terwyl die skuld net bly opgehoop het.
“Elke dag het die mense by Sassa ’n ander storie gehad,” vertel hy. “Ek het reeds gesorg dat ek ’n nuwe kaart kry, maar op betaaldag was daar nie geld nie.”
Ek moes die hele Junie ander in die oë kyk vir ’n stukkie brood en moes hier en daar leen om krag te koop. Net voor Julie se betaaldag het hulle my verseker ek gaan twee maande se betaling kry, maar ek het net die maand se geld gekry wat ek toe netso gebruik het om my skuld te betaal. Hulle het nou weer belowe ek kry dit met dié maand se geld, maar wat hulle nie weet nie is dat ek nou weer ander in die oë moet kyk vir ’n stukkie kos,” vertel hy.
“My bene is nie meer van die beste nie, maar ek moet maar agter my geldjies stap – anders kry ek dit nooit.”
Volgens hom het hy in die verlede nooit sulke probleme gehad nie en is hy bekommerd oor die nuwe kaart.
Volgens ’n bron by Sassa is dit slegs ’n administratiewe probleem wat ingekruip het in Cleophas se geval en het gesê dit is reggestel.
Die minister van maatskaplike ontwikkeling, Susan Shabangu het die nuwe stelsel geloof en sê behalwe vir ’n paar haakplekke, het die byna 12 miljoen begunstigdes almal hul geld ontvang.