Plaaslike atlete het Woensdag 12 Desember die voorreg gehad om bietjie skouers te skuur met die Suid-Afrikaanse 100 m-hekkieskampioen, Rikenette Steenkamp.
Steenkamp het ’n paar wenke met plaaslike hekkiesatlete gedeel nadat sy ’n versoek op sosiale media gekry het. Die voormalige Afrika-kampioen het vroeër die jaar die Suid-Afrikaanse 100 m-hekkies rekord in Switserland verbeter en mik nou om die laaste ronde van die Wêreldkampioenskap in Doha, Katar te haal.
Volgens Tashwell Adams, plaaslike atletiekafrigter, is Steenkamp se besoek aan die atlete iets besonders vir die jongspan en dien ook as motivering vir die nuwe atletiekseisoen.
Steenkamp het die jongspan aangemoedig om in hulself te glo en nooit op te hou droom nie. “Dit verg harde werk om die beste te wees, maar die beste van alles is jy moet geniet wat jy doen. Sukses kom nie oornag nie, maar slegs ná harde werk,” het sy verduidelik.
Die Suid-Afrikaanse kampioen sê ’n atleet het haar op Instagram gevra vir ’n skenking van ’n paar spykerskoene wat Steenkamp onmiddellik gepos het. Sy vertel daarna het sy en Adams begin gesels oor ’n besoek aan die dorp, ’n plan waarin Steenkamp nie vir ’n oomblik aan gehuiwer het nie.
Twee van Atlantis se middelafstand-atlete Manedo Hendricks en Shaniel Williams, is tans op ’n maand lange oefenkamp in Potchefstroom waar nasionale en internasionale atlete onder die toesig van Samuel Sepeng voorberei word.
Sepeng, Suid-Afrikaanse atletiekafrigter van die jaar, is ook die afrigter van Caster Semenya.