Ná byna twee weke is die verstopte toilette en gebrekkige brandblussers uitgesorteer en die kantoor van binnelandse sake in Hartenbeeskraal is weer geopen.
Dié kantoor by die plaaslike Thusongsentrum was ’n tyd lank gesluit.
Volgens Nokuthula Poni, plaaslike kantoorhoof het inspekteurs van die departement van arbeid Dinsdag 23 Oktober die kantoor geïnspekteer en bevind dit is onveilig en moet onmiddellik gesluit word.
Sy sê voorts die inspekteurs het op ’n wenk van die publiek gereageer. Volgens Poni het hulle goeie samewerking van die publiek gekry en kon haar kantoor steeds mense help wat hul dokumente kom afhaal.
Kontrakteurs het deurnag gewerk om die kantoor weer op standaard te bring sê Poni, want mense van verskillende gebiede kom na Atlantis se kantoor, omdat Malmesbury se kantoor toe is.
Sy bevestig inspekteurs het Dinsdag, 6 November, die groen lig gegee dat binnelandse sake weer sy deure kan oopmaak.
Volgens ’n werker, wat ook in die gebou was, het die inspekteurs ook by die Suid-Afrikaanse agentskap vir maatskaplike sekerheid (Sassa) wat in die gebou geleë is, gegaan om hulle vriendelik te waarsku dat dié kantoor ook geïnspekteer sal word.
. Met Weskus Nuus se besoek aan die gebou Maandagoggend 12 November was die Sassa-kantoor ook gesluit tot verdere kennisgewing.