“Hier kom die dood op wiele,” het een vrou nog geskree.

Die volgende oomblik pyl die motor op hulle af en die vroue moes uitmekaar spat na veiligheid.

Een persoon is dood en drie ander, ’n volwassene en twee kinders, is ernstig beseer.

Felicia Charles (55), haar buurvrou Sylvia George (69) en nog drie bure het soos oudergewoonte Donderdagmid­dag 14 Desember lekker op die sypaadjie van hul wonings, in Sonweg onder ’n boom, gesit en gesels.

“Die volgende oomblik het die rooi Jetta teen ’n stink spoed in die pad aangejaag gekom en soos Knight Rider op twee wiele op ons afgepyl. Ons en die kinders wat sokker gespeel het in die pad, het almal in verskillende rigtings gehardloop,” vertel Charles.

Charles sê sy kan nie veel meer as dit onthou nie, maar toe sy weer sien sit sy in die hek vas en besef haar buurvrou (George) lê leweloos langs die motor.

Volgens George se seun, David, is sy ma op slag dood.

“Dit kon ’n trippelslag vir die familie gewees het. My 12-jarige seun, Cameron, en my tweejarige kleinkind is ook in die ongeluk beseer. My kleinkind is steeds in ’n kritieke toestand in die Rooikruis-kinderhospitaal en Cameron sterk by die huis aan, maar is steeds in erge pyn.”

Cameron het ook aan Weskus Nuus vertel wat gebeur het.

“Ons het sokker gespeel op die sypaadjie terwyl my susterskind by my ouma gesit het. Ons het gesien die motor kom vinnig aan en sweef heen-en-weer oor die pad. Nadat dit ’n sementpaal getref het, het dit op ons afgepyl,” vertel hy.

Carmelita George, ma van die tweejarige, het aan Weskus Nuus vertel haar seun het Saterdagmiddag ’n drieuur-lange operasie aan sy diafragma ondergaan. Hy word deur dokters gemonitor omdat sy toestand steeds kritiek is.

Charles se been het ook in die voorval seergekry en is met batterysuur gebrand. Sy moet nou met krukke oor die weg kom.

Omstanders op die toneel glo die bestuurder, wat ligte beserings opgedoen het, was onder die invloed van dwelms en wou by die polisie weet waarom daar nie bloedmonsters geneem is nie.

Volgens polisiewoordvoerder kapt. Cyril Dicks, word ’n klag van strafbare manslag ondersoek.

Die polisie het ook bevestig daar is nie ’n bloedmonster geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.