Karate-susters ryg medaljes in

Die Fisher-sussies van Sherwood Park is Weskus Nuus en SuperSport se Let’s Play-wenners vir April en Mei.


Die Fisher-sussies van Sherwood Park is Weskus Nuus en SuperSport se Let’s Play-wenners vir April en Mei.

Jamey-Lee (16), is ’n gr. 10-leerder aan Hoërskool Robinvale en het in 2013 by die Karate Kyousei-karateklub aangesluit. Chloe (11), ’n gr. 4-leerder aan Wesfleur Primêr het ’n jaar later in haar sussie se voetspore gevolg.

Jamey-Lee is ook ’n sokkerspeler vir die Atlantis Vroue Sokkerakademie en het ’n vol skedule deur die week met sokker- en karate-oefening wat haar vier dae per week besig hou. Sy het tans ’n bruingordel (drie strepe) in karate en sien daarna uit om eersdaags te kwalifiseer om haar junior swartgordel te kry. Haar gunstelingvak op skool is wiskunde en sy wil eendag ’n somatoloog word.

Chloe is op haar beurt ’n ywerige gimnas en beoefen hierdie sport op Saterdae. Haar gunstelingvak is lewensoriëntering en sy wil graag eendag ’n onderwyser word. Chloe het reeds ’n persgordel in karate verower.

Beide sê sport het hulle geleer om dissipline te hê, meer selfvertroue gegee en geleer hoe om hulle tyd beter te bestuur.

Pa, Marlon Fisher, is baie trots op sy dogters en hulle prestasies. “Ek wou hê my dogters moet karateklasse neem om hulleself te beskerm, maar hulle het my verwagtinge oortref en uitgestyg in die sport. Finansieel is dit moeilik om by te hou met al die uitgawes, maar ek en my vrou, Imelda, doen ons bes om hulle te ondersteun,” voeg hy by.

Jamey-Lee sê die derde plek wat sy in Julie tydens ’n byeenkoms in Durban behaal het, is haar trotste oomblik nóg. Sy het ook einde Junie in Mosambiek aan ’n kampioenskap deelgeneem, waar sy nasionale kleure verwerf het. Jamey-Lee is genooi om in September vanjaar in Romenië aan die Wêreld Goju Ryu Karate Federasie-kampioenskap deel te neem, maar die koste beloop sowat R70 000 en haar ouers kan dit nie bekostig nie, dus moes sy onttrek.

Chloe het ook in Junie aan ’n kampioenskap in Saldanha deelgeneem, waar sy trippelgoud verower het. Haar trotste oomblik was die tweede plek wat sy in ’n toernooi in Maart behaal het, nadat sy haar voet seergemaak het, maar besluit het om steeds deel te neem.

You need to be Logged In to leave a comment.