Parkview Primêr se hoof, Waldie Kastoor, groet vanjaar die skool ná vier dekades.
Kastoor (60), wat reeds sedert 1982 by die skool betrokke is, was vir 39 jaar ’n onderwyser. Kastoor het in 1999 die leisels by die vorige hoof oorgeneem en sê oor die jare was daar vele uitdagings wat aangespreek moes word om ’n verskil in die kinders se lewe te maak.
Hy sê die suksesse wat die skool onder sy leiding behaal het, was beslis te danke aan spanpogings. “Parkview is volgens die departement se opname ‘ ’n ryk skool’. Dit beïnvloed ons negatief, want baie skemas wat armoede verlig, kom ons nie toe nie. Wat maak ons? Kinders kom honger skool toe. Ons kan slegs kos vir 300 leerders gee, maar daar is 900 kinders. Hierdie was ’n uitdaging, maar tog is ons sonder geld, maar baie geseënd,” verduidelik hy.
“Ek is net bly dat ek eers saam in die span en toe as spanbestuurder kon help om ons skool tot nuwe hoogtes te neem. Ons het nie gekyk na die probleme nie, maar oplossings. Talle groot suksesvolle projekte word as ’n span aangedurf. Eers was dit die veeldoelige sportterrein waarop ons na hartelus kan oefen en speel. Ons volwaardige gerekenariseerde skoolbiblioteek met ’n bibliotekaresse en die skoolsaal van R3,5 miljoen is ook iets waarop ons trots is.
“Al hierdie geriewe het die beheerliggaam en personeel in samewerking met die ouers aan die leerders gebied. Ons glo in wat Madiba gesê het: ‘It is only with a Good Education that we can bring about change.’”
Kastoor se plan is om nou “op te maak vir verlore familietyd” en na Europa te reis.