Die naam katgriep oftewel die parvovirus, is baie misleidend aangesien die siekte nie van katte na honde kan versprei nie. Die parvovirus – ’n baie klein, maar taai virus – kan tot ses maande of langer in die omgewing oorleef. Dit kan selfs met jou skoensole versprei word na ander gebiede.

’n Hond wat nie ingeënt is teen die parvovirus nie, kan maklik siek word indien hulle blootgestel word aan dié dodelike virus. Simptome van katgriep:

  • Verlies van eetlus
  • Naarheid en braking
  • Maagwerking, baie keer met bloed
  • Swakheid
  • Erge ontwatering

As katgriep nie behandel word nie, sal 98% van honde doodgaan van hierdie virus. Behandeling behels intensiewe behandeling met binneaarse vloeistof (drup), sterk antibiotika en middels om die naarheid te voorkom.

Aangesien die virus so aansteeklik is, moet honde in ’n geïsoleerde kamer gehou word.

Ongelukkig sal 30-50% van honde met die parvovirus steeds sterf, al word hulle intensief behandel.

Parvo, is definitief ’n geval waar voorkoming altyd meer suksesvol is as behandeling. Hondjies kry immuniteit van hulle ma wat hulle beskerm teen die virus vir die eerste ses weke (indien die ma ingeënt was), maar as hulle nie dan ingeënt word nie, is hulle baie vatbaar – nie net vir die parvovirus nie, maar o

ok vir virusse wat hondesiekte en hepatitis veroorsaak – albei is dodelik.

Hondjies moet ’n kursus inentings kry om seker te maak dat hulle volledig beskerm is teen die siektes. Inentings word op ses, nege en 12 weke gedoen en moet dan een keer elke jaar herhaal word.

Sommige eienaars redeneer dat die koste te hoog is vir ’n inenting, maar om parvo te behandel kan 10 tot 20 keer duurder wees.

Raadpleeg jou veearts vir meer inligting oor ’n effektiewe inentingspro-gram. Onthou, ’n gesonde hond is ’n ingeënte hond!

You need to be Logged In to leave a comment.