“Ons is verenig in ons soektog na behuising en ander grondkwessies.”
Só het inwoners van Mamre Donderdag 8 Augustus by ’n betoging, waar ingange na die dorp versper is, gesê. Sowat 300 inwoners het aan die betoging deelgeneem en alle ingange na die dorp is met brandende motorbande afgesper. Niemand kon in of uit die dorp gaan nie.
Inwoners van die Morawiese sendingdorpie sê hulle is keelvol dat Mamre aan die agterspeen suig wanneer dit by behuising kom.
WeskusNuus het in die laaste uitgawe berig dat inwoners ’n memorandum oor hul misnoeë aan Cynthia Clayton, die subraadvoorsitter, oorhandig het.
Ontstoke inwoners sê dis bykans ’n maand later en hulle het nog geen terugvoering van die Stad Kaapstad of politici ontvang nie.
“Ek woon al sewe jaar in ’n wendyhuis. Ek baklei vir my huis, want wanneer dit reën moet ek omtrent met ’n emmer rondval soos dit inlek,” vertel Chantel Morta.
Volgens die 62-jarige Elizabeth Williams sorg sekere mense net vir hulself en hul families. “Ek moet vir my kinders en kleinkinders veg, want as ek die dag nie meer daar is nie, moet hulle nie rondswerf nie,” sê Williams.
Volgens Jolanda Johnson (45) is sy 11 jaar getroud en woon steeds in ’n kamer in Mamre.
“Dit is ons eie grond – hoekom kan hulle nie die grond vir ons gee sodat ons huise kan bou nie?” wou sy weet.
Johnson vertel sy wou baie graag by die werk wees, maar gee nie om dat sy die dag verloor nie “want dit is vir ’n goeie doel”.
Matrikulante wat eksamen skryf, het op die toneel aan Weskus Nuus gesê hulle is dankbaar dat die skole hulle later gaan laat skryf. “Ons besef ook dat ons ouers dit vir ons doen en daarom ondersteun ons dit,” het een gesê.
Volgens bestuurslede van die Mamre Residents Association, wat die memorandum aan Cynthia Clayton oorhandig het, is hul organisasie nie betrokke by die optrede nie omdat die gemeenskap self besluit het hulle is raadop.
Volgens Clayton is die memorandum aan verskeie departemente in die Kaapse metro gestuur en wag sy steeds op terugvoering. Clayton sê ook dat die burgemeester, Dan Plato, die kwessie by sy uitreikingsprogram aanstaande week – Dinsdag 20 Augustus – met inwoners sal opneem.