Erfenisdag is ’n publieke vakansiedag wat jaarliks 24 September in Suid-Afrika gedenk word.
Ná demokrasie is dit omskep in ’n dag waarop alle kulture hul eie erfenis kan herdenk. Ons as bruin mense word somtyds toegesnou as ’n groep wat geen kultuur, tradisies en geskiedenis het nie, maar laat ek dit duidelik stel dat die bruin mense inderdaad sy geskiedenis en leefwyse het wat strek oor generasie na generasie.
Met die oorgang na ’n nuwe Suid-Afrika het die kabinet besluit dat daar ’n dag moes wees waarop Suid-Afrikaners, van watter bevolkingsgroepe ook al, hul eie erfenis kan gedenk.
Dit het beteken dat niemand moes vergeet wie en wat hy is en waar hy vandaan gekom het nie. Elkeen moes op dié dag sy eie kultuur, geskiedenis en kultuurgeskiedenis in ere hou. Dit is toe Erfenisdag genoem. Ek wil ook opnuut beklemtoon dit is verblydend dat die Khoi-San se status in die nuwe Suid-Afrika erken word.
Die gees van “ubuntu” het al van toeka se dae al in ons nasie posgevat waar ons kon suiker of enigiets by ons bure leen wat die samesyn bevorder het veral by Kersfeesetes en Paasnaweke.
Ooms en tannies wat hulself uitgeleef het met stoepstories en veral as familie van die platteland bruilof hou of net lekker te kuier op plase. Die dae wat ons nog tot laat toe kan kuier en veilig terug na ons wonings toe kon stap.
Bruin mense is veral versot op hul afvalpotte en musiek en sportbyeenkomste en dit maak ons uniek as ’n groep – deel van die “reënboognasie”. Atlantis het hope talentvolle persone met uiteenlopende persoonlikhede en ons kan met reg hulde bring aan hulle bydrae tot die samelewing.
Erfenisdag gaan egter nie net oor die eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar veral ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen.
Ons kan ook nie die dag afmaak as nasionale Braaidag nie, want ons is dit aan ons self verskuldig om werklik ons talente, geskiedenis en tradisies voort te laat leef.
As ons in Atlantis kyk vandag is dit die verskillende kulture en groeperings wat ons gemeenskap so uniek maak.
Elemente van nasionale eenheid, nasiebou, versoening en patriotisme moet dus benadruk word.
Die doel is ook om veral die jeug aan te moedig om Suid-Afrikaners se gedeelde erfenis in ere te hou.
Dit is belangrik dat Atlantis se jeug die opofferings van trotse Suid-Afrikaners in ons eie gemeenskap se nalatenskap behoue laat bly en te laat herleef.
Erfenis is al omskryf as “dit wat ons geërf het: Die somtotaal van die natuurlewe en natuurskoon, plekke van wetenskaplike of geskiedkundige belang, nasionale monumente, historiese geboue, kunswerke, literatuur, musiekstukke, mondelinge tradisies en museumversamelings saam met hul dokumentasie.”
“As ons nasie inderdaad soos die spreekwoordelike feniks uit die as van verdeling en konflik moet verrys, moet ons erkenning gee aan diegene wie se onbaatsugtige werke en talente toegewy was aan hierdie doelwit van ’n nie-rassige demokrasie.” – Oud-president Nelson Mandela se toespraak 24 September 1996.