Opponent-kinderbendes wat die afgelope paar weke vrees gesaai het by inwoners, het nou vrede gemaak.
Inwoners van die Dura-woonstelle het in vrees gelewe vir die bendelede, wat na bewering uit kinders – seuns en meisies – so jonk as sewe jaar oud bestaan.
Die Prinsipale Vereniging van Atlantis (PVA), het ook nou ingespring nadat ’n video van meisies wat ’n leerder aanrand by een van die hoërskole in Atlantis, op sosiale media versprei is. Die groep is intussen geskors hangende ’n ondersoek. Die bendegroepe staan bekend as die Horribles en Terribles.
Volgens Melvin Losper, skoolhoof van Protea Park Primêr en verantwoordelik vir veiligheid op die PVA, is die situasie besig om handuit te ruk.
“Meeste van die skole het erken daar is ’n probleem met bendegroepies”. Skole is nou besig met inisiatiewe om meer buitemuurse aktiwiteite voor te stel, sodat leerders alternatiewe het om te doen na skool.
Irma Booysen van Canary-hof is een inwoner wat die afgelope tyd deurgeloop het onder een van die bendegroepe. Die gesin se vensters is stukkend gegooi en hulle moes vir dae in vrees lewe. Kol. Adolf Jonker, speurhoof van die Atlantis-polisie, het die klag van opsetlike saakbeskadiging bevestig en het gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Volgens ’n betroubare polisiebron, is die leiersfigure van die bendes hoofsaaklik voormalige bendeleiers se kinders. Nog ’n inwoner, Cheryl Thomas, sê hulle (inwoners) weet nie meer wat om te doen met die kinders wat so aangaan nie.
“Hulle gee eenvoudig net nie meer om nie en van respek is daar geen sprake. Die polisie skrik hulle ook nie eens af nie en dit bekommer ons, want wie gaan ons beskerm?” het Thomas gesê.
Die opponent-bendegroepe het intussen ná intervensie van gemeenskapslede besluit om vrede te maak en hulle verskille op die sokkerveld uit te “baklei”.
Gereelde sokkerwedstryde word nou gespeel en koördineerder, Belinda Papier, sê sy het groot planne om borge te kry vir die spanne en ’n unie op die been te bring. Daar word ook netbal gespeel tussen die meisies.
Met Weskus Nuus se besoek aan Albatros-hof Donderdag, het daar groot opgewondenheid geheers tussen die kinders, met talle wat die reën trotseer het om die wedstryd te kyk.