Die personeel, ouers en bestuur van Robinwood-kleuterskool in Proteapark sê hulle is raadop ná ’n vlaag inbrake.
Met winter op hande is die kleuterskool sonder elektrisiteit en water en nogtans breek boewe steeds in.
Volgens bestuurslede moet die kinders soggens in die koue en donker sit terwyl die personeel van Pontius na Pilatus gestuur word vir hulp.
Volgens Harley Damon, ondervoorsitter van die skool se bestuurraad, is ’n kragopwekker aangeskaf, maar dit is binne ’n week gesteel.
“Ons kook op ’n geleende gasstoof en ons is positief dat dinge wel sal regkom,” sê sy.
Dit lyk asof ondernemings skepties is om te help aangesien die kleuterskool se registrasiedokumente met die oorgang na ’n nuwe bestuur verdwyn het, sê Damon.
Chantal August, die skool se kassier, is woedend omdat hul skool soos ’n onwettige organisasie lyk terwyl planne ingestel is om die kleuterskool “wat die gemeenskap reeds jare lank dien, weer op dreef te kry”.
August sê wat hartseer is, is dat die nuwe bestuur ná hul verkiesing uitgevind het daar is nie geld om die gesteelde items te vervang nie.
Volgens Cynthia Clayton, voorsitter van Subraad 1, word gekyk na maniere om die kleuterskool by te staan.