Kleuterskoolonnie vermoor

Die 37-jarige Samantha Mento is in die aanloop tot Vrouemaand helder oordag glo deur haar man vermoor nadat die paartjie in ’n stryery betrokke was.


Die 37-jarige Samantha Mento is in die aanloop tot Vrouemaand helder oordag glo deur haar man vermoor nadat die paartjie in ’n stryery betrokke was.

Keith John Mento (37) het Dinsdag en Woensdag 6 en 7 Augustus formeel om borgtog aansoek gedoen en die saak is tot 19 Augustus uitgestel. Volgens die oorledene se familie het hul suster “nie verdien om só te sterf nie”.

Die familie vertel dat die twee Saterdagmiddag, 27 Julie oor haar familie begin stry het. Haar man het haar volgens familielede teen die kop geslaan en met ’n mes gesteek, waarna sy op die toneel beswyk het.

Volgens Samantha se familie was die verdagte baie aggressief en is die oorledene se ma selfs die dag van die moord geklap nadat sy wou weet wat gebeur het.

Mento verskyn môre (Woensdag 14 Augustus) weer in die hof op ’n klag van aanranding op sy skoonma.

Die oorledene se ma, wat agter die huis in ’n wendyhuis op die Mentos se erf woon, sal Maandag 19 Augustus verder in die verdagte se borgaansoek getuig.

Die familie het aan Weskus Nuus gesê hulle is bewus dat Samantha gereeld aangerand is, maar sy het ter wille van vrede nooit klagtes aanhangig gemaak nie omdat die stryery oor haar familie was. Sy was gek oor kinders en het ’n groot liefde vir hulle gehad en het haar as ’n kleuterskoolonderwyseres bekwaam.

You need to be Logged In to leave a comment.