Pella se Young Hearts-rugbyspan het Saterdag 18 Februarie op ’n gepakte Pella Park, ware karakter getoon toe hulle die span van Mamre druipstert huis toe gestuur het in ’n vriendskaplike wedstryd.
Met ’n sterk wind wat dwars oor die veld waai, kon Mamre, met die wind agter hul blaaie, nie voordeel trek met 70% gebiedsvoordeel in die eerste helfte nie.
Mamre, wat hul eerste wedstryd van die jaar gespeel het, het telkemale skitterende bewegings met bottervingers verlore laat gaan, maar het eerste bloed geruik toe David Prince, losskakel van Mamre, geslaag het met ’n strafskop om die besoekers eerste op die telbord te plaas.
Prince het moedig probeer en met ’n paar goeie breekslae Mamre op die aanval geplaas, maar hanteerfoute het die bewegings skipbreuk laat ly. Silvine King, Mamre-kaptein, het sy troepe van voor gelei en het sy hart uitgespeel.
Mamre, wat duidelik iets geleer het uit die sewes-toernooi onlangs in Darling, het die spoedvraat-vleuel van Pella, Barry Adonis, met valkoë dopgehou en hom geen beweegruimte gegun nie. Die naam, Jade Solomons, sal egter nog lank by Mamre-rugbyklub en hul ondersteuners spook. Die skitter-heelagter van Pella het met sekondes oor in die eerste helfte deur Mamre se verdedigingslyn gebreek vir ’n verdoelde drie om die tuis- span met 7-3 te laat water drink.
Mamre het in die tweede helfte ook gebiedsvoordeel geniet, maar kon nie afrond nie weens skitterende verdediging deur die tuisspan en swak hanteerwerk van die besoekers. Mamre se swaarder pak voorspelers kon ook nie die mas opkom teen die ligter voorspelers van Pella nie, en is meters ver teruggedruk.
Volgens Ruben Abels, hoofafrigter van Pella, is daar nog skaafwerk aan die span se voorbereiding, maar is hy trots op sy spelers wat by die wedstrydplan gehou het om Mamre te troef. Abels sê hulle sien met vertroue uit na hul ligaverpligtinge.
Sy eweknie van Mamre, Garth Liedeman, sê hy is teleurgesteld in die verloor, maar het Pella geprys met hul oorwinning. Liedeman sê voorts, hoewel hy heelwat spelers op die krukkelys het en vyf spelers aan ander spanne verloor het, is dit geen verskoning vir die nederlaag nie.
- Pella het die afgelope naweek voortgebou op hul goeie spel en vir Atlantis-rugbyklub aangepak op hul tuisveld. Die finale telling was 34-0.
Pella het die komende naweek n blaaskans.