Sowat 30 jong professionele persone het in September vergader om die nood vir behuising in Atlantis te bespreek.
Volgens Edwin Louw, organiseerder van die vergadering, is hy een van die professionele persone wie nie noodwendig buite Atlantis wil woon nie, maar meen daar is ’n groot behoefte aan behuisingsprojekte vir sy inkomstegroep in die dorp.
“Talle mense het reeds die dorp verlaat weens ’n tekort aan voldoende behuising. Ons soek nie gratis huise nie, maar vra wel dat grond beskikbaar gestel moet word sodat ons kan bou of byvoorbeeld ’n kontrakteur kry om na die plot- en plan-opsies te kyk,” het Louw verder verduidelik.
By die vergadering is ’n komitee op die been gebring met ’n mandaat om die groep se kwessies met die Stad Kaapstad se verteenwoordigers te bespreek.
Louw voer ook aan dat die komitee, wat bestaan uit Louwrence Visagie, Edmund Mc Dillon, Deidre van Wyk, Brian Sapto, Allison Jonkers en homself, reeds die wiel aan die rol gesit het. “Ons het na verskeie gebiede gaan kyk en het reeds iets in die oog wat binnekort met die wyksraadslid bespreek gaan word.”
Daar is ook reeds ’n databasis saamgestel en met ontwikkelaars gesels, wat baie gretig is om die groep met die proses te ondersteun.
Die komitee meen hulle grootste uitdaging gaan wees om grond te kry.
“As ons nie bystand van plaaslike leiers kry nie, sal ons beslis ’n hoër gesag nader,” het Louw verder gesê.