’n Polisiekonstabel (32) van Witsand is in hegtenis geneem vir die moord van sy skoonsuster en poging tot moord op onder meer sy vervreemde vrou en ander familielede.
Volgens ’n familielid, Simethema Dastile, het die oorledene Nokubonga Fuba Sondag ’n partytjie vir haar seun se verjaardag gereël toe haar suster Nontsiklelo Nkozo se vervreemde man ook daar opgedaag het.
Dastile vertel die verdagte het die hek agter hom gesluit, ’n vuurwapen uitgehaal en net op mense wat buite gesit het begin skiet.
“Almal het in die huis gehardloop, maar die skieter het die huis skiet-skiet binnegekom. Hy wou almal wat daar was uitwis, want hy het op almal geskiet,” meen Dastile.
Fuba het op die toneel aan haar wonde beswyk, die polisiebeampte se vrou is in ’n kritieke toestand nadat sy in die kop gewond is.
Altesaam ses mense is gewond waaronder ook ’n agtjarige maatjie van Faba se seun wat die partytjie bygewoon het. Derhalwe Nkozo en die agtjarige is nog twee ander in ’n kritieke toestand terwyl twee reeds uit die hospitaal ontslaan is.
Volgens erg getraumatiseerde familielede was die egpaar vier jaar getroud en reeds ’n geruime tyd van mekaar vervreemd. Nkozo was glo besig met ’n egskeiding en dit is vermoedelik die motief vir die voorval.
“Ons weet nie wat die man makeer het nie en vermoed dit kan dalk die egskeiding wees. Nontsiklelo het ’n beskermingsbevel teen hom gehad en hy mag nie naby haar en hul driejarige seun gekom het nie,” het ’n familielid aan Weskus Nuus gesê.
Moses Dlamini, nasionale woordvoerder van onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod), het die voorval bevestig en gesê ’n 32-jarige konstabel het homself na afloop van die voorval aan die polisie oorgegee.
Dlamini sê ’n klagte van moord en poging tot moord word ondersoek en die verdagte sal Woensdag 31 Oktober in die plaaslike Atlantis-landdroshof verskyn.
. Die konstabel was glo werksaam by die kriminele rekordsentrum in Kaapstad.