Die nasionale energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het ’n 18,65%-verhoging in kragpryse goedgekeur nadat die energiereus Eskom ’n verhoging van 32% versoek het.
Dié nuwe kragpryse skop op 1 April in en is geen April-gekkedaggrappie nie.
Terwyl die land in donkerte gehul word weens beurtkrag, dreig stygende brandstof pryse ook.
Die stygende kragprys is landwyd deur verskillende politieke partye veroordeel en het ook tot betogings gelei. Die Kaapstadse burgemeester, Geordin Hill-Lewis, sê die Stad sal alles moontlik doen om inwoners se ligte aan te hou. Hill-Lewis het onlangs aangekondig die Stad sal inwoners betaal indien hulle oortollig krag aan die metro verkoop.
Die Stad het toestemming van die nasionale tesourie vir dié transaksies gekry en beskou dit as ’n suksesvolle stap om beurtkrag te stuit.
Volgens Hill-Lewis behoort die raamwerk en proses om elektrisiteit by inwoners te koop, alles in Junie afgehandel te wees. Die tyd is nou reg vir inwoners om van die geleentheid gebruik te maak, sê Hill-Lewis.
Die burgemeester het inwoners aangemoedig om in hul eie kragopwekking te belê. “Ons is gereed om by so veel as moontlik inwoners of kliënte krag te koop,” het hy gesê.
Die regerende party van die Stad Kaapstad is egter wyd deur opposisiepartye oor die Stad se elektrisiteitskoste gekritiseer. Volgens die party GOOD betaal die Stad R1,74 per kw/h, maar verkoop dit in die metro vir R2,98 per kw/h.
Volgens Suzette Little, van GOOD, moet die Stad nie sy jaarlikse prysverhoging vir die finansiële boekjaar instel nie. Sy sê verbruikers betaal reeds meer as die voorgestelde tarief, en die Stad maak steeds wins.
Nadia Satardien van die CCC-party sê hoewel die DA ’n optog oor Eskom se voorgestelde verhoging gehou het, verkoop die DA steeds elektrisiteit “ten duurste” aan inwoners. Sy meen dit is duidelik wins word bo arm inwoners geag. “Die DA-beheerde stad moes eerder sy tarief verminder om die optog te regverdig,” sê Satardien.