Die koelbloedige dood van ’n jong, ywerige sportman laat sy vriende en familie met talle onbeantwoorde vrae.
Die 17-jarige Valentino Williams is Sondagaand omstreeks 18:20, slegs ’n paar treë van sy ouerhuis in Robinvale koelbloedig doodgeskiet.
Ouma Kaliena Williams (58) van Protea Park, vertel haar kleinkind het oudergewoonte Sondagmiddag na kerk nog by haar kom eet.
Sy was geskok toe bure later die middag aan haar kom meedeel dat haar oudste kleinkind, die grapmaker in die familie, doodgeskiet is.
“Ek het eers heelwat later, toe ek langs sy lewelose lyk staan, besef my Tino-kind is nie meer hier nie. Dit het nog nie ingesink nie.”
Williams vertel Tino, soos sy familie hom noem, was ’n ywerige sportman. Die gr. 10-leerder aan Hoër Tegniese Skool Proteus, was ’n vleuel in die skool se o. 19B-rugbyspan en volgens onderwysers ’n gereelde lid van die beginspan. Hy was ook ’n naelloopatleet en lid van die Velocity-atletiekklub.
’n Vriendin, Renaldi Kyster, gr. 12-leerder aan dieselfde skool, het Sondag ’n paar minute voor die voorval nog met haar vriend gepraat. “Hy het my gekomplimenteer en gesê ek lyk mooi.”
Kyster en ander vriende van Tino moes huis toe gestuur word weens die erge trauma van die voorval. Volgens haar pa, past. Lionel Kyster, gaan sy dogter en die ander leerders almal Woensdag trauma-behandeling ontvang deur sielkundiges van die departement van onderwys.
Volgens Williams is haar jongste seun, Tino se oom, ’n bendelid en vermoed sy dit was die motief agter haar kleinseun se skietdood.
Tino woon in ’n opponent-bendegroep se gebied. Hoewel die tiener geensins met bendebedrywighede betrokke is nie, was hy ’n teiken omdat sy oom ’n vermoedelike bendelid is.
Bure beskryf die jongman as ’n goed-gemanierde “gentleman” met ’n belowende sportloopbaan voor hom.