Krieketseisoen opgeskort

Krieketklubs is geskok met die besluit dat daar moontlik geen krieket gaan wees nie weens die vlak 5-waterbeperkings wat tans heers.


Krieketklubs is geskok met die besluit dat daar moontlik geen krieket gaan wees nie weens die vlak 5-waterbeperkings wat tans heers.

By ’n noodvergadering deur Westelike Provinsie Krieket­vereniging (WPKV) Woensdag 25 Oktober was daar besluit om alle ligawedstryde te verkort.

Atlantis-spanne word direk deur dié besluit geraak, dus is die afgelope naweek se wedstryde afgelas. Krieketklubs wag nou vir nuwe ligabepalings wat moontlik Saterdag begin.

Daar word gehoop dat die Stad Kaapstad sal wil boor vir water by die krieketveld of die huidige stelsel sal wil opgradeer. Dié projek is reeds 10 jaar gelede deur die Stad Kaapstad van stapel gestuur, maar is nooit voltooi nie.
. Atlantis-krieketklub (Baggy Blues) het Saterdag 21 Oktober sy eerste WPKV-wedstryd teen Cravenby met een paaltjie in ’n tuiswedstryd gewen.

Kurt Julius, Baggy Blues-kaptein, het vir die soveelste keer die seisoen die loot verloor en Cravenby het eerste gekolf. Die span het daarin geslaag om 200 lopies vir sewe paaltjies te behaal.

Aziz Adams (10-1-34-3) en Reldo Meintjies (6-1-14-1) was die Baggy Blues se uitblinkers met die bal. Eldine Goliath asook Julius het hulle skitterend bygestaan.

Weens die swak en droog oppervlakte van die buiteveld, was die tuisspan se veldwerk maar swak.

Die manne van Atlantis het egter skitterend gekolf en die wenlopies in die 36ste boulbeurt behaal.

Jevon Cloete (60) en veteraan­speler, Christopher Links (41) het uitstekend gekolf. Daar was ook merkbare bydrae van Julius (17), Ashley Goliath en Roger August (16).

Die wedstryd het egter dramaties geëindig toe die Baggy Blues vinnig paaltjies verloor het en die laaste paar, Adams en Meintjies, die span oor die lyn moes dra. Meintjies het ’n skitterende vier gemoker om die wenlopies aan te teken.

You need to be Logged In to leave a comment.